Boer met 'n plan: Planne en Kupido werk op Karooplaas

Johan Norval

Die dikwels dorre Karoo vereis vernuftige denke en aanpassingsvermoë van sy inwoners. Een so ’n voorbeeld is mnr. Van Zyl Naudé van Richmond in die Noord-Kaap.
Een van die jonger geslag Karooboorlinge is mnr. Van Zyl Naudé (33) van die plaas Niekerksfontein. Hy wil die gebied se kosmandjie ontsluit en sy sonderlinge skoonheid vir niks verruil nie. En die dorre Karoo hou deesdae ’n ander soort bekoring vir hom in nadat hy onder Kupido se liefdespyle deurgeloop het ná sy deelname aan verlede jaar se TV-reeks Boer soek ’n Vrou. Sy vriendin, me. Zoë Hogendijk van Graaff-Reinet, vind die uitgestrektheid van die Karoo ook bekoorlik.
Niekerksfontein se opstal en plaaswerf is besonder netjies. By die plaas se ingang staan ’n naambord met sy pa, Zylie, se naam daarop. Naudé is egter voornemens om dié bord te vervang wanneer ’n vrou se naam ook daarop kan pryk. Dié moontlikheid binne die volgende “jaar of so” is besonder goed, sê hy.
Die plaas van 10 214 ha met natuurlike bossie- en grasveld is aan die rand van die Bo-Karoo geleë, digby die Sneeuberge. Hy boer met vleisbeeste en geelbek-Merino’s.
Planne maak om sy lewe en dié van sy werkers geriefliker te maak, is vir hom algemeen. En hy is nie te trots of skaam om by studiegroepe, medeboere en konsultante kers op te steek nie. “As jy hier gebore is, is dit ’n lekker wêreld. En dit wat jy geërf het, wil jy in ’n verbeterde staat aan ’n volgende geslag oordra,” sê hy. “Daarvoor moet jy as Karooboer by jou omstandighede kan aanpas.”
Beesboerdery
Naudé bedryf ’n kommersiële Hereford-kudde waarin hy Braford-bulle inspan om die gehardheid van die Brahman saam met die temperament en vrugbaarheid van die Hereford in kruisings vas te lê, terwyl hy steeds eenvormigheid nastreef. Hy het tans altesame 87 koeie, 14 verse en 2 bulle.
Die dektyd van die koeie strek vanaf middel Desember tot middel April. Verse word twee maande voor die koeie gedek om die verse, nadat hulle die eerste keer gekalf het, voldoende kans te gee om weer beset te raak.
Die kalwers word vroeg in Mei gespeen sodat die koeie die winter droog kan deurgaan en in ’n goeie kondisie kan wees as hulle in die lente kalf. Die speenkalwers word enige tyd in September en Oktober bemark. Temperament is die vernaamste kriterium wanneer vervangingsverse
oorweeg word. Dit geld ook wanneer hy bulle aankoop.
“Dit moet vir my lekker wees om met die beeste te werk. My bulle koop ek by die Heelbo-boerdery in die distrik Rosendal in die Vrystaat,” sê Naudé. 
Skaapboerdery
Die lamtye vir Naudé se kommersiële geelbek-Merinokudde is twee keer per jaar (April en Augustus). Elke agt maande word geskeer.
Hy het tans 1 800 ooie, 590 hamels, 27 ramme, 226 vervangingsooitjies en 997 speenlammers. Sy hamels word tot op sestand-fase (B-graad) aangehou, waarna hulle, nadat hulle geskeer is, bemark word. Hy benut ook sy hamels saam met die beeste in ’n deurvolg-trop, wat die ooie in ’n kamp opvolg. Aangesien hul produksievereistes laer is, is dit moontlik dat hulle meer druk as die ooie kan hanteer.
Die vernaamste keuringsvereiste vir die hamels is maksimum wolproduksie en dié vir ooie vrugbaarheid, bouvorm, woleien-skappe, en Merino SA se rasstandaarde.
Kampstelsel
Een van die belangrikste aspekte op sy grond is weiveldbenutting. Hy volg ’n program om die plaas se oorspronklike kampe van sowat 500 ha in sinvolle, kleiner een-hede van sowat 50 ha (na gelang van die topografie) met behulp van ’n geëlektrifiseerde liggewig-heining te verdeel.
Die benutting van dié binneheinings bespaar geld, aangesien baie minder materiaal as in die geval van tradisionele veeheinings gebruik word. En die elektrifiseringseenheid is in ’n pasgemaakte omhulsel ingebou wat van kamp tot kamp verskuif kan word en met sonkrag werk.
Die heinings bestaan uit drie drade wat gespan word, met die boonste een 75 cm van die grond af, die middelste een (wat as gronddraad dien) 52 cm van die grond af en die onderste een 27 cm van die grond af. Die stelsel stuur sowat 9 000 V deur die boonste en onderste drade om vee af te skrik.
Die behandelde houtsparre word 9 m uit mekaar geplaas. Die sparre word met binddraad aan die grond geanker deur middel van ’n ysterstafie van 30 cm wat in die grond ingekap word.
Hy verdeel ’n Y-tipe ysterstaaf van 1,8 m lank in ses stukke van 30 cm elk om te verseker dat die heining netjies en stewig bly. Hierdie ysterstawe word elke 54 m in die grond gekap. Dit verskil van die konven-sionele manier van veeheinings met sparre wat elke 3 m en ysterpale wat elke 12 m tot 15 m uitmekaar geplant is.
Nog ’n besparingseienskap van die liggewig-heining is dat die hoek- of hekpale nie uitsonderlik sterk ankerpale vereis nie. ’n Lengte van die Y-stawe word bloot bolangs teen ’n hoek- of hekpaal ingekeep en op die grond op ’n stuk versinkte klip gestut. Gewone ankerdraad word tussen die voet van die ankerpaal en die onderkant van die hoekpaal opgewen totdat die gewenste spanning verkry is.
Naudé vertel dat Pa Zylie hom aangespoor het om Niekerksfontein se benadering tot beweiding so aan te pas om veldverbetering te bewerkstellig. Die
hoëdrukbeweiding in kleiner kampe bring mee dat die vee die onsmaaklike bossies en pioniersgras ook benut sodat dit plek maak kan vir smaakliker bossieveld en klimaksgras. “Met ’n verbeterde veldbestuurstelsel was ons oogmerk om ons produksie te verhoog deur meer groot- en kleinvee-eenhede aan te hou. Vertikale uitbreiding van die plaas is in elk geval goedkoper as om dit horison-taal uit te brei,” sê hy.
Kort weitydperke van ’n paar dae (waartydens die maksimum uit ’n kamp gehaal word sonder om die produksie op jou vee te beperk) en met langer hersteltydperke is vir hom belangrik sodat die plant weer voldoende wortelreserwes kan opbou.
Die vee kry gekonsentreerde ureumlekke in die tydperk vanaf die eerste ryp tot die eerste noemenswaardige somerreën.
Besproeiing
Naudé het 6,5 ha aangeplante weiding bestaande uit ’n mengsel van vroeë en laat kultivars van lankswenkgras, kropaar- en kanariegras, rooi- en witklawer, asook raaigras. Dié weiding word hoofsaaklik gebruik vir die versorging van die tweelingooie nadat hulle gelam het, en word uit ’n standhoudende fontein besproei.
Die fontein se lewering van sowat
3 300 ℓ/uur word in ’n fonteindam opgevang, waarna sowat 11 000 ℓ/uur vir besproeiing beskikbaar is. Die stelsel bestaan uit permanente spuite wat deur elektroniese krane oop- en toegemaak word.
“My probleem was dat onsuiwerhede, soos stokkies en gras, die spuite verstop, met gevolglik droë kolle op die lande,” sê hy. Sy oplossing daarvoor is soos volg: Die oorspronklike kraan in die fonteindam is 200 mm in deursnee. Hy het ’n 3 m lange ysterpyp met dieselfde deursnee aan die dam se kant van die kraan gekoppel.
Die eindpunt van die ysterpyp is met ’n plaat van 300 mm x 300 mm x 5 mm afgesluit waarop twee koppelstukke met ’n deursnee van 65 mm gemonteer is. Hieraan is twee stroke swart pyp van 5 meter (klas 3; met ’n deursnee van 65 mm) gekoppel waarvan die eindpunte met gewone nywerheidsmuskietnet bedek is en as filters vir die onsuiwerhede dien.
Die eindpunte van die twee plastiektoevoerpype is aan ’n drywende doseerkan van 25 liter verbind. Dié vlot verseker dat die besproeiingswater altyd uit die boonste derde van die dam invloei wat volgens Naudé se ondervinding die skoonste is.

Baasplan: Kruipvoerkrip hou ooie uit

’n Kruipvoerkrip wat van PVC-besproeiingspyp gemaak is, isnog ’n nuttige boerplan van mnr. Van Zyl Naudé van Richmond, is . Die pyp, 6 m lank en met ’n deursnee van 250 mm, word in die helfte deurgesny. Sodoende kry hy twee krippe van 3 m elk uit een lengte.
Die punte van elke stuk pyp word met proppe van dieselfde materiaal toegemaak wat hy maklik kan verwyder om lek in te gooi of die krip skoon te maak. Die pypkrip lê op die grond en kry twee voetstukke van plat yster om te voorkom dat dit rondrol.
Gate met ’n deursnee van 152 mm
word bo-op die pyp gemaak vir toegang tot die lek.
Dié eenvoudige krip maak die opslaan van tradisionele kruiphokke onnodig. Dit is ook aansienlik goedkoper en is maklik hanteerbaar. Die gebruik van dié soort voerkrip voorkom ook dat lammers leer kruip, wat die latere probleem van draadkruipery kan bekamp.
Van die enkele nadele van die pypvoerkrip is dat lammers se horings in die gate kan vassit wanneer hulle hul bekke te diep in die pyp indruk. Dié probleem kan voorkom word deur ’n strook tussen die gate oop te sny. Die deursnee van die strook tussen die gate is sowat 71 mm, wat die helfte van die gate se deursnee is.
Aanvanklik moet die krip propvol gegooi word totdat die lammers sterk vreet. Die ooie benut ook die lek terwyl hulle die lammers touwys maak. Sodra die lammers geleer het om sterk te vreet, word die krip se vlak net tot op die halfpadkerf aangevul om die ooie se vretery te voorkom. Die ooie kan dan nie hul bekke diep genoeg by die gate indruk om te vreet nie, iets wat die lammers nog met gemak kan regkry.

Romanse: Waagsprong vir die liefde

’n Groepie vriende het mnr. Van Zyl Naudé verlede jaar uitgedaag om aan die TV-program Boer soek ’n Vrou deel te neem. En hy het die uitdaging aanvaar. Hulle was raadop omdat hy nie tot trou kon kom nie.
“Elkeen soek na ’n lewensmaat en die reeks was ’n middel tot ’n doel. Ek het my regtig nie kon indink dat ek so ver sou vorder nie,” sê hy.
Sy nuwe vriendin, me. Zoë Hogendijk, was die tweede kandidaat wat hy deur die reeks ontmoet het. Die enkele brief wat sy aan Naudé geskryf het nadat sy hom op TV gesien het, het sy aandag getrek en ná slegs een ontmoeting is sy voete onder hom uitgeslaan.
Toe is die koeël egter deur die kerk en hy moes die ander afsprake afstel.
“Van die begin af het dinge holderstebolder gegaan en sedertdien sien ons mekaar bykans elke naweek,” sê Naudé.
Hogendijk bied huishoudkunde by die Hoër Volkskool op Graaff-Reinet aan, waar sy haar van die begin van die jaar af gevestig het.
Sy voldoen aan sy beeld van die ideale maat: Die een wat deur dik en dun by hom kan staan, wat pragtig is, en bowenal haar op haar eie manier op die plaas en in die gemeenskap kan uitleef, sê Naudé.
Haar gunsteling-eienskappe van hom? “Hy is ’n opregte mens en plat op die aarde. En sy kalm, liefdevolle benadering help baie indien ek effens kwaai raak.”

Kategorie: Boerplanne
Bladsy 40 - 42

Navrae: E-pos: vznaude@gmail.com of sel 082 445 4111.