Noord-Kaapse Jongboer van die jaar: Snelle veeverbetering is skans teen eise van Karoo

Johan Norval

In die ongenaakbare Karoo is vertikale uitbreiding en optimale veldverbetering twee onmisbare stappe om winsgewender te wees. Mnr. Van Zyl Naudé sit ook danksy die Nieu-Seelandse Falkirk-indeksstelsel die titel van Noord-Kaapse Jongboer op sy kaggelrak.
Die pas bekroonde Noord-Kaapse Jongboer van die Jaar, mnr. Van Zyl Naudé, het die beginsel van saam met die natuur boer tot ’n fyn kuns ontwikkel.
Die dikwels dorre Karoo vereis vernuftige denke en aanpassingsvermoë van sy inwoners. Danksy die snelle genetiese vordering in sy Geelbek-
Merinokkudde en ’n waterdigte veldherstelplan ontsluit Naudé die streek se kosmandjie op sy plaas Niekerksfontein naby Richmond.
Die plaas van meer as 10 000 ha met natuurlike bossie- en grasveld is aan die rand van die Bo-Karoo geleë, digby die Sneeuberge. Sy vleisbeesvertakking maak sowat 13% van sy boerderyinkomste uit met Geelbek-Merino’s as die leeue-aandeel.
Planne maak om sy lewe en dié van sy werkers geriefliker te maak, is vir hom algemeen. En hy is nie te trots om by studiegroepe, medeboere en raadgewers kers op te steek nie. “As jy hier gebore is, is dit ’n lekker wêreld. En dit wat jy geërf het, wil jy in ’n beter toestand aan ’n volgende geslag oordra. Daarvoor moet jy as Karooboer by jou omstandighede kan aanpas.”

inheemse drakensbergers
Naudé het voorheen ’n kommersiële Hereford-kudde gehad waarby hy Braford-bulle benut het om die gehardheid van die Brahman saam met die temperament en vrugbaarheid van die Hereford in kruisings vas te lê, terwyl hy steeds eenvormigheid nastreef. 
Deesdae boer hy met die inheemse Drakensberger om die bergveld van sowat 1 600 m tot 2 000 m bo seespieël beter te benut. “Die Drakensberger het meer geharde kloue om die kliprante aan te durf en met sy swart vel kan dié ras ook uiterste toestande beter weerstaan.” Die beeste wat by hom in die Karoo aard, het ’n klein raam met ’n laer voedingsbehoefte.
Die koeie se dektyd strek van middel Desember tot middel Maart. Verse word twee maande voor die koeie gedek om die verse, nadat hulle die eerste keer gekalf het, genoeg tyd te gee om weer beset te raak.
Die kalwers word vroeg in Mei gespeen sodat die koeie die winter droog kan deurgaan en in ’n goeie kondisie kan wees wanneer hulle in die lente kalf. Die speenkalwers word enige tyd van Mei tot Augustus  bemark. Temperament is die vernaamste kriterium wanneer vervangingsverse oorweeg word. Dit geld ook wanneer hy bulle aankoop.
“Dit moet vir my lekker wees om met die beeste te werk,” sê Naudé. 

geelbek-merino’s
Die lamtye vir sy kommersiële Geelbek-Merinokudde is twee keer per jaar in April en Augustus. Elke agt maande word geskeer.
Wanneer hy hamels aanhou, word hulle tot op sestand (B-graad) afgerond. Daarna word hulle bemark nadat hulle geskeer is. Hy benut ook sy hamels saam met die beeste in ’n deurvolgtrop, wat die ooie in ’n kamp opvolg. Aangesien hul produksievereistes laer is, is dit moontlik dat hulle meer druk as die ooie kan hanteer.
Die vernaamste keuringsvereiste vir die hamels is maksimum wolproduksie en dié vir ooie is vrugbaarheid, bouvorm, woleienskappe en Merino SA se rasstandaarde.
Die ekonomiese oorweging van ’n hamelboerdery teenoor die bewaring van die natuurlike hulpbronne moet volgens Naudé in balans gehou word. Derhalwe het hy sowat twee jaar gelede sy hamelboerdery gestaak ten gunste van produktiewer ooie wat die veld beter benut.
“As jy hamels wil aanhou, moet jy genoeg veld hê vir hul uitsluitlike gebruik, anders ly jou veldbestuur daaronder.”
Kampstelsel
Een van die belangrikste aspekte op sy grond is weiveldbenutting.
Naudé se benadering met sy kampstelsel is om die balans tussen veldverbetering, die produksie en die reproduksie van sy vee te handhaaf. “Sekere tye van die jaar gebruik ek my vee om my veld te verbeter deur die kampe met groter troppe te laat bewei waarna ’n hersteltydperk van 8 tot 12 maande volg.
“In die produksie- en reproduksietyd van die vee word kleiner troppe op die veld onderhou.” Die gevolglike sukses van die beladingsverskil is dat van die pioniergrassoorte en -bossies deur klimaksgras en bossies verdring is.
Hy volg die afgelope dekade ’n program om die plaas se oorspronklike kampe in sinvolle, kleiner eenhede van sowat 50 ha tot 140 ha (na gelang van die topografie) met behulp van ’n geëlektrifiseerde liggewig-heining te verdeel.

Heinings
Die benutting van dié binneheinings bespaar geld, aangesien baie minder materiaal as in die geval van tradisionele veeheinings gebruik word. Die elektrifiseringseenheid is in ’n pasgemaakte omhulsel ingebou wat van kamp tot kamp verskuif kan word en met sonkrag werk.
Naudé vertel dat sy pa hom aangespoor het om Niekerksfontein se benadering tot beweiding so aan te pas dat die veld verbeter word. Die hoëdrukbeweiding in kleiner kampe bring mee dat die vee die onsmaaklike bossies en pioniersgras ook benut sodat dit plek kan maak vir smaakliker bossieveld. “Met ’n beter veldbestuurstelsel was ons oogmerk om ons produksie te verhoog deur meer groot- en kleinvee-eenhede aan te hou. Vertikale uitbreiding van die plaas is in elk geval goedkoper as om dit horisontaal te doen.”
Kort weitydperke van ’n paar dae (waartydens die maksimum uit ’n kamp gehaal word sonder om produksie op die vee te beperk) en met langer hersteltydperke is vir hom belangrik sodat die plante weer vol-
doende wortelreserwes kan opbou.
Die vee kry gekonsentreerde ureumlekke in die tydperk vanaf die eerste ryp tot die eerste noemenswaardige somerreën en produksielekke in die fase van laat dragtigheid.
Die afgelope 11 jaar het die veebelading van 14 ha/GVE tot 26 ha/GVE gewissel.
In die droë tydperk van 2007, toe slegs gemiddeld 284 mm reën op die plaas aangeteken is, was die belading 26 ha/GVE, gevolg deur 25 ha/GVE (2008; 503mm), 21 ha/GVE (2009; 484 mm), 16 ha/GVE (2010; 438 mm),
20 ha/GVE (2011; 569 mm), 18 ha/GVE
(2012; 663 mm), 15 ha/GVE (2013; 418 mm),15 ha/GVE (2014; 363 mm),14 ha/GVE (2015; 323 mm),18 ha/GVE (2016; 277mm) en 18 ha/GVE (2017).

Falkirk-indeks groot hulp
Hy is een van die aanhangers van die Falkirk-indeks wat deur mnr. Ian Walsh van Nieu-Seeland bedryf word. Daarvolgens word ramme se oogspier gemeet om hul vleisgehalte en vetverspreiding te bepaal. Walsh doen self die meting op sy besoeke aan Suid-Afrika, werk die indekse uit en e-pos dit dan terug. Hy besoek Naudé jaarliks.
“Die indeks is ’n belangrike hulpmiddel in die strewe na die strukturele en funksionele korrektheid van die dier se fisiologie. Die gevolg daarvan is ’n groep laekoste-ooie met ’n laer onderhoudsbehoefte vir reproduksie. Boonop lewer die geselekteerde groep sowat 8% meer meerlinge op,” meen Naudé.
“Dié ekstra inligting help baie in teelprogramme en sal in die toekoms ál belangriker word. Ingevolge die indeks skakel ek die geneties minderwaardige skape in my kudde uit.”

Besproei uit fontein
Naudé het aangeplante weiding op 6,5 ha bestaande uit ’n mengsel van vroeë en laat kultivars van lankswenkgras, kropaar- en
kanariegras, rooi- en witklawer, asook raaigras. Dié weiding word hoofsaaklik gebruik vir die versorging van die ooie met meerlinge nadat hulle in Augustus en in April gelam het, en word uit ’n standhoudende fontein besproei.
Die fontein lewer sowat 3 300 ℓiter per uur wat in ’n fonteindam opgevang word. Sowat 11 000 ℓiter per uur is vir besproeiing beskikbaar. Die stelsel bestaan uit permanente spuite wat deur elektroniese krane oop- en toegemaak word.
Lusern word op 4,5 ha in die veld met behulp van drupbesproeiing verbou vir die produksie van bale. Die drupperstelsel bespaar water deurdat water regstreeks op die wortelsone geplaas word.

Studiegroep ’n barometer
Naudé is by die studiegroep van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) in sy omgewing betrokke en gebruik dit as barometer van sy vordering op die plaas.
Een van die swakhede in sy mondering waarvan hy deur die NWKV-data bewus gemaak is, is ’n ondergemiddelde handelsinkomste. Hy kon dit egter regstel deur bykomende waardetoevoeging, soos om ietwat swaarder afgeronde lammers, stoorlammers of vleiskalwers te bemark om die beste prys op ’n gegewe tyd te kry.
“Ek doen ook moeite met my wolbemarking op veilings deur op die hoogte van markneigings en die makelaar se beoordeling van my skeersel te bly.
“Jy pas jou skape agt maande lank op, daarom moet die skeerproses nie afgejaag word nie.” Hy verkies plaaslike skeerspanne wat netjies werk en klas die skeersel self om hom deeglik van die gehaltestandaard in ooreenstemming met die vereistes van die wolmakelaar te vergewis.
“Dit beteken dat ons eerder sowat 350 skape per dag skeer as om 500 af te jaag.”
Sy hoofsaaklik droë omgewing laat hom nie toe om fyn wol te kweek nie en hy spits hom toe op wol van sowat 20 mikron wat sy treksterkte kan behou.
Die verhouding wol:vleisinkomste is tans 55:45, maar hy streef daarna om sy reproduksie te verhoog. Die elektrifisering van lammerkampe teen skadelike diere is een van die stappe om die boerdery se lampersentasie te verhoog.

Vierde geslag pas gebore
Op 40 – en ná ’n paar misverstande met Kupido – spog Naudé met ’n naamgenoot en erfgenaam.
Naudé en sy vrou, Lize, is die trotse ouers van hul eersteling wat die vierde geslag Van Zyl Naudé op sy geboorteplaas is. Die paartjie het sowat twee jaar gelede afgehaak nadat hy haar in Desember 2014 deur ’n familievriendin ontmoet het. Hulle is in Graaff-Reinet se Groot Kerk getroud, dieselfde kerk waar sy oupa getroud is.
Klein Johannes Ignatius van Zyl Naudé is op 21 Junie vanjaar gebore.
Die Kupido-mislukkings het heelwat vroeër in 2011 begin ná ’n uitdaging van ’n groepie vriende om aan die TV-program Boer soek ’n vrou deel te neem. En hy het die uitdaging aanvaar. Hulle was raadop omdat hy nie tot trou kon kom nie.
“Elkeen soek na ’n lewensmaat en die reeks was ’n middel tot ’n doel. Ek het my regtig nie kon indink dat ek ná so baie probeerslae ’n pragtige vrou én ’n seun op die plaas kan hê nie.”
Naudé is een van sy gemeenskap se voorslaglede wat onder meer die dorp se jaarlikse veldskou reël. Hy het ook meegehelp dat die nasionale Merino-veldskou, die Merino Classic, in Februarie tydens die Richmondse skou aangebied word.
Kuddeboere word ook by dié Classic betrek deurdat twee klasse vir ooie met lang en kort wol bygevoeg is.

 LBW vra . . . Mnr. Van Zyl Naudé


Wie was jou mentor?
Beslis my oorlede pa, Zylie. Ek was bevoorreg om van 2002 af vier jaar lank saam met hom te werk voor sy aftrede. Daarna het ek sowat 11 jaar lank alleen op die plaas geboer voordat ek getroud is.

wat is Jou beplanningsvisie op kort termyn?
Ek wil al die lamkampe met elektriese jakkalswering toespan en nog kampe verklein om meer weidae uit dié kampe te verkry. In die toekoms sal ek nog ’n stuk grond wil bykoop vir klein Zylie se begin.

Hoe voel jy oor onteiening sonder vergoeding?
My Naudé-voorgeslagte hét vir ons grond met sweet en bloed betaal. Indien grond voorheen van mense afgeneem is, stem ek saam dat regstellings gedoen word, maar indien nie, mag grond nie net goedsmoeds op dié manier onteien word nie. Jy sal mos nie daarvan hou as ek jou horlosie van jou arm af vat nie?

Foto's

Geelbek-Merino’s in Karoobossieveld. Die diere word streng ten opsigte van bouvorm en wol van sowat 20 mikron geselekteer. FOTO’S: JOHAN NORVAL

Skaaphonde is ’n onontbeerlike hulpmiddel op Niekerksfontein om troppe vee bymekaar te maak.

Die kommersiële Drakensberger-kudde wat nog Hereford-kruisings insluit. Mnr. Van Zyl Naudé vind dat die Drakensbergers goed in sy omgewing aanpas en die ranteveld beter kan benut.

Benewens boorgate het Niekerksfontein ’n fontein wat sowat 3 300 ℓiter per uur lewer en wat vir besproeiing beskikbaar is.

Mnr. Van Zyl Naudé, sy vrou, Lize, en die paartjie se seun, ook Van Zyl.

Navrae: Mnr. Van Zyl Naudé, e-pos: vznaude@gmail.com; tel. 053 693 0800; sel 082 445 4111.

Plaasinligting


Ligging: Richmond, Noord-Kaap

Naam: Niekerksfontein   
Grootte: 10 214 ha

Eienaarskap: Familiesaak

Vertakkings: Vleisbeeste (13%) en Geelbek-Merino’s

Veldtipe: Natuurlike bossie- en grasveld met ’n drakrag van 18 ha/GVE

Gemiddelde reënval: 400 mm/jaar (gemiddeld 275 mm die afgelope 5 jaar)

 KORTom

Kleiner kampe en beter veldbenutting dra by tot die vertikale uitbreiding van die plaas.

Mnr. Van Zyl Naudé vestig ’n laekoste-ooigroep met behulp van die Falkirk-indeks en die uitskot van minderwaardige diere.

Naudé het na ’n Drakensbergerkudde oorgeskakel om die bergveld van sowat 1 600 m tot 2 000 m bo seespieël beter te benut.

Bladsy 44 - 46